Die Dik Groen Kombers

Ek woon in a klein dorpie net buite Portland, die grootste stad in Maine (wat nie juis so groot is nie, siende dat ek van Jo’burg kom). Ek woon ook aan die einde van ‘n kort doodloopstraat met 13 huise op die straat. Aan die einde van die straat is ‘n sirkel met vier huise, en ek is die een op die verste punt. Aan alle kante van my huis is bome wat dik groei. Meeste is eike, maar een of twee groot bome is altyd groen. In die winter word hulle meestal bedek met sneeu so mens sien maar min groen gedurende daardie tyd van die jaar. Maar nou, nou is dit somer – uiteindelik – en dit word baie warm hier, baie soos Durban, en bedompig. Gedurende die lente kom al die nuwe groen blare uit orals om my en hulle verdik in die maand of so daarna, sodat nou as ek uitkyk, is dit asof daar so dik groen kombers om my gevou is. Dis baie privaat behalwe vir al die klein gediertes wat in die bosse bly en al die hordes voels – maar dis ‘n ander blog. Dis nogal ‘n rustige gevoel, soort van veilig, nie dat ek ooit onveilig hier voel nie, maar dis ‘n baie salige gevoel. Ons sit deesdae gereeld buite in die son en drink wyn, KWV as ek dit kan kry, en hap aan die boerewors met die Vrystaatse speserye wat ek hier self maak. Dan neem ek dit alles in. En dis dan op sulke tye dat ek inderdaad geseend voel. En glo my, ek neem dit alles in. Alles. Pak die gevoel diep in my geheue in want ek weet ek sal dit binnekort weer nodig he wanneer die blare begin verkleur en een vir een af val, en dit weer bleek en wit word orals om my.

Published in: on Julie 3, 2007 at 3:59 nm Comments (2)

The URI to TrackBack this entry is: http://humananda.wordpress.com/2007/07/03/die-dik-groen-kombers/trackback/

RSS skakeling vir menings op die blad.

2 Kommentaar Leave a comment.

  1. Dit klink baie salig!

  2. Moet se jy beskryf dit so mooi, ek kom kuier sommer MORE in Maine!


Leave a Comment

You must be logged in to post a comment.